’n Eeu van sentrale banknote in Suid-Afrika: Ekonomie, koste en voordele

A century of central bank notes in South Africa: Economy, costs and benefits

  • J Rossouw Universiteit van die Witwatersrand
Keywords: banknote, munte, nasionale betaalstelsel, SA Reserwebank, sentrale banke

Abstract

Hierdie artikel toon aan dat die kontantfunksie van sentrale banke (spesifiek banknote) weinig aandag in die akademiese literatuur kry en dra dus by om hierdie leemte te vul. Banknootuitreiking kom teen ’n groot koste vir sentrale banke, maar banknote in omloop is by wyse van muntloon (seigniorage) ’n belangrike inkomstebron vir sentrale banke. In akademiese literatuur kry muntloon ook min aandag. Die koste van die muntloonverdelingsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die Gemeenskaplike Monetêre Gebied (Common Monetary Area), naamlik Eswatini, Lesotho en Namibië, is insgelyks ’n aspek wat min aandag kry. Hierdie aspekte word as areas vir verdere navorsing geïdentifiseer.

Suid-Afrika het sedert unifikasie in 1910 sy eie onafhanklike geldeenheid, wat tot 1961 op die imperiale stelsel van £/s/d gemodelleer was. ’n Desimale geldstelsel is in 1961 in omloop gebring. Suid-Afrika het toevallig in 1961 ook ’n Republiek geword, maar die twee prosesse was totaal onafhanklik van mekaar. ’n Desimale geldstelsel was nie ’n voorwaarde vir Republiekwording, nie, terwyl Republiekwording ook nie ’n voorwaarde vir ’n desimale geldstelsel was nie. Beide Australië en Nieu-Seeland het gedesimaliseer sonder om onafhanklike republieke te word.

Sedert 1922 groei banknote in omloop betreklik konstant teen ’n gemiddelde groeikoers naby 10 persent per jaar. Die konstante groeikoers word aangeteken ten spyte van groot wisselvalligheid in die jaarlikse ekonomiese groeikoers en in die jaarlikse inflasiekoers gedurende die afgelope eeu. Hierdie groeikoers is volgehou ten spyte van die aanvaarding van nuwe betaalinstrumente soos kredietkaarte en direkte fondsoorplasing. Dit is egter nog té vroeg om te oordeel of kriptogeldeenhede soos Bitcoin ’n verandering in die groeikoers van banknote in omloop tot gevolg sal hê.

Die reële waarde van die grootste noot in omloop in Suid-Afrika het oor tyd skerp afgeneem. Tans is dit die R200-noot, wat reeds sedert 1993 die grootste noot in omloop is. Suid-Afrika is gereed vir ’n banknoot met ’n groter sigwaarde as R200, want in reële terme is R200 die laagste sigwaarde ooit vir die grootste banknoot in omloop sedert 1922 indien aangepas vir inflasie.

Selfs binne ’n kontantomgewing is die nasionale betaalstelsel van groot belang, want dit is die stelsel wat gebruik word vir transaksies op bankrekeninge by handelsbanke, onder meer wanneer kliënte kontant uit bankrekeninge onttrek of geld deponeer. Die stelsel maak intydse vereffening van transaksies op bankrekeninge moontlik. Dit is opvallend dat die nasionale betaalstelsel ook min aandag in die akademiese literatuur kry.

Laastens is daar ’n tekort aan vergelykende studies oor die banknootverspreidingsfunksies van sentrale banke. Studies van hierdie aard sal nuttig wees binne ’n groter vergelykende studie van die institusionele aspekte van sentrale banke.

Author Biography

J Rossouw, Universiteit van die Witwatersrand

Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Suid-Afrika

Published
2022-03-29
Section
Oorspronklike Navorsing