Belasting op suikerversoete koeldranke in Suid-Afrika: Perspektiewe uit die voedingsveld

  • Christine Taljaard Noordwes Universiteit
  • Hester H Vorster Noordwes Universiteit
Keywords: Belasting, suikerversoete koeldranke, Suid-Afrika, perspektiewe, voedingsveld

Abstract

Agtergrond: ’n Belasting op suikerversoete koeldranke (SVKe) het vanaf 1 April 2018 in werking getree in ’n poging om die probleem van oorgewig en vetsug (o/v) en dus nieoordraagbare siektes (NOS) in Suid-Afrika (SA) aan te spreek. Die belasting het potensieel verreikende gevolge op verskeie belanghebbendes, insluitende die verbruiker, asook industriële- en landbou-sektore.

Doelstelling: Hierdie oorsig fokus op: (i) die mees resente internasionale en nasionale aanbevelings oor bygevoegde suikerinname; (ii) bydraende faktore tot o/v; (iii) etiek van die belasting; (iv) internasionale ervarings met soortgelyke belastings, asook (v) verwagte voor- en nadele.

Metode: Die toepaslike en resente literatuur is gebruik vir ’n oorsig en kritiese bespreking van die belasting op SVKe in SA.

Resultate: Die gemiddelde inname van bygevoegde suikers oorskry aanbevelings. Beide o/v, sowel as NOS is probleme in SA. Daar is bewyse uit ‘n SA studie van ’n verwantskap tussen inname van versoete koeldranke en liggaamsgewig. Maar dis onduidelik of belasting op SVKe, as ’n Pigouviaanse belasting, wel ’n groter voordeel vir armer populasiegroepe sal inhou. Moontlike voordele sluit in die fondse wat geïn sal word, laer uitgawes aan SVKe, asook die besparing aan die koste van mediese dienste as gevolg van die verlaagde voorkoms van o/v. Besware sentreer rondom die moontlike verliese aan werksgeleenthede.

Gevolgtrekkings: O/v is ’n komplekse, multifaktoriale en transdissiplinêre probleem, wat met multisektorale en transdissiplinêre ingrepe, waarvan belasting slegs een is, aangespreek moet word. Die voorgestelde  belasting blyk eties verantwoordbaar te wees, maar daar is min bewyse dat dit wel in SA die beoogde doelwitte sal bereik. Dit word voorgestel dat die regering aandag moet gee aan die moontlike verliese aan werksgeleenthede wat die belasting mag meebring, en dit met innoverende maniere moet regstel. Dit is noodsaaklik dat verantwoordbare monitering en evaluering van die implementering en gevolge van die belasting gedoen word.

Author Biographies

Christine Taljaard, Noordwes Universiteit

Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding, Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Noordwes Universiteit

Hester H Vorster, Noordwes Universiteit

Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding, Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Noordwes Universiteit

Published
2018-11-05
How to Cite
Taljaard, C., & Vorster, H. (2018). Belasting op suikerversoete koeldranke in Suid-Afrika: Perspektiewe uit die voedingsveld. Suid-Afrikaans Tydskrif Vir Natuurwetenskap En Tegnologie / <i>South African Journal of Science and Technology</I&gt;, 37(1), 76-86. Retrieved from http://www.satnt.ac.za/index.php/satnt/article/view/664
Section
Articles