In ’n wêreld met toenemende druk op die omgewing deur maatskaplike, ekonomiese en ruimtelike ontwikkeling, bied Suid-Afrikaanse bewareas ’n unieke benadering waarvolgens bewaring en landbou saam plaasvind. Suid-Afrikaanse bewareas kan gedefinieer word as ’n tuig tot gemeenskapgebaseerde bewaring deur die vrywillige assosiasie van omgewingsbewuste grondeienaars en -gebruikers wat hul natuurlike hulpbronne koöperatief en omgewingsvolhoubaar wil bestuur, sonder om hul eiendomme se grondgebruik te verander (National Association of Conservancies & Stewardship South Africa
Soos wat sosio-ekonomiese aktiwiteite omgewingsdruk verhoog, is dit nodig om privaat bewaringsinisiatiewe soos bewareas aan te moedig, ten einde landskapskaalbewaring te bevorder. Dit sal help om omgewingskwaliteit, asook omgewingsdienste aan die gemeenskap te verbeter, veral in ekologies sensitiewe gebiede (Downsborough, Shackleton & Knight
Ten einde hierdie mikpunt te bereik, is die volgende doelstellings geformuleer:
Om die navorser se teoretiese begrip van bewareas te verbreed deur ʼn literatuurstudie van veerkragtigheid en sosio-ekologiese sisteme, biosfeerreservate, bewareas, netwerke van private grondeienaars in bewaring en die rol daarvan in lande soos Suid-Afrika; Om die evolusie van bewareas as konsep en in ’n ruimtelike diffusiekonteks in Suid-Afrika in die algemeen, en die Wes-Kaap in die besonder, te ondersoek; Om sleutelrolspelers in die bewaringsmatriks in die Wes-Kaap te identifiseer en onderhoude met hulle te voer; Om bewareas in die fynbosstreek van die Wes-Kaap te identifiseer wat geag word as aktief en veerkragtig; Om die maatskaplike, ekonomiese en ruimtelike faktore te bepaal wat die veerkragtigheid van die gekose bewareas beïnvloed; Om te bepaal wat die motivering van grondeienaars is om by ’n bewarea aan te sluit, en te bepaal of daar aan hul verwagtinge voldoen is of nie.
Die studie sal ’n benadering van veelvoudige metodes volg, wat ’n omvattende literatuurstudie van die konsep van bewareas, hul veerkragtigheid en rol in ’n ontwikkelende land sal insluit. Onderhoude sal gevoer word met sleutelrolspelers by Cape Nature, Conservation at Work, die World Wildlife Fund en die Departement van Landbou, wat almal ‘n rol speel in bewareas in die Wes-Kaap. Onderhoude sal gevoer word met bewareabestuurders en vraelyste sal deur bewarealede voltooi word.