Kombinasies van inhibeerders van glukosedraers en estroonanaloë op borskankersellyne

Authors: A. van Tonder1, A.J. Joubert2, A.D. Cromarty1
Affiliations: 1Department of Pharmacology, University of Pretoria, South Africa,2Department of Physiology, University of Pretoria, South Africa
Correspondence to: A. van Tonder
Postal address: Private Bag X11, Arcadia 0007, South Africa
How to cite this abstract: Van Tonder, A., Joubert, A.J. & Cromarty, A.D., 2014, ‘Kombinasies van inhibeerders van glukosedraers en estroonanaloë op borskankersellyne’, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 33(1), Art. #1263, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/satnt.v33i1.1263
Note: This paper was initially delivered at the Faculty of Education and Department of Physiology at the University of Pretoria, Groenkloof Campus, South Africa on 16 October 2012.

Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract
Open Access

Combination of glucose transporter inhibitors and oestrone analogues on breast cancer cells. Combinations of chemotherapeutic agents are commonly used in the clinical setting as this allows for a reduction in the dose of each agent, and thus reduced toxicity, with increased therapeutic efficacy. This study proved the feasibility of synergy between two novel oestrone analogues and GLUT inhibitors. The synergistic combinations which have been identified indicate that the different molecular subtypes of breast cancer, as represented by the cell lines used, respond differently to the combination therapy. These differences will be further investigated.

Inhoud
Open Access

Die meerderheid antikankerbehandelings wat tans gebruik word bestaan uit kombinasies van middels. Kombinasieterapie maak dit moontlik om die dosis van elke middel te verlaag om meer effektiewe behandeling met minder toksisiteit toe te dien.

Veertien glukosedraers (GLUT) is geïdentifiseer waarvan GLUT1, 2, 4, 5 en 12 in hoër vlakke in borskankerselle gevind word in vergelyking met normale selle. Drie inhibeerders van hierdie glukosedraers, naamlik quercetin, fasentin en indinavir, is as deel van kombinasieterapie getoets. Deur hierdie glukosedraers te inhibeer word die kankersel effektief van glukose beroof en dit lei daartoe dat die sel uithonger.

Twee estroon analoë, ESE-15-ol en ESE-16, is ontwerp vanaf die 2-metoksie-estradiol struktuur om die gewenste eienskappe van hierdie molekuul te behou, maar om die swak biobeskikbaarheid en kort half-leeftyd daarvan te verbeter. Studies het bewys dat hierdie estroonanaloë belowende antikankeraktiwiteit besit en dit is daarom besluit om kombinasies van hierdie twee estroonanaloë met die drie GLUT inhibeerders te toets met die hoop om sinergistiese kombinasies te identifiseer.

Die konsentrasies van die GLUT inhibeerders en estroonanaloë wat 50% van die selgroei inhibeer (GI50) is vasgestel met die sulforhodamien B toets (SRB) na 72 h blootstelling. Drie borskankersellyne wat verskillende molekulêre subtipes borskanker voorstel, naamlik MCF-7, MDA-MB-231 en SK-Br3 sellyne, is gebruik. Die GLUT inhibeerders is daarna teen konsentrasies van GI50, ½ x GI50 en ¼ x GI50 gekombineer met die estroon analoë (teen 4 x GI50, 2 x GI50, GI50, ½ x GI50 en ¼ x GI50) vir 72 h blootstellingsperiodes. Resultate is geanaliseer met behulp van CalcuSyn 2.0 sagteware (Biosoft, Cambridge, UK).

Voorlopige resultate het getoon dat dit moontlik is om die estroonanaloë en GLUT inhibeerders op ’n sinergistiese wyse te kombineer. Sinergisme is vir al drie GLUT inhibeerders op al die borskankersellyne wat getoets is geïdentifiseer. Die GLUT inhibeerder indinavir het die laagste

Kombinasie Indeks (KI) waarde behaal volgens CalcuSyn op die MDA-MB-231 sellyn met albei estroon analoë teen konsentrasies so laag soos 55 μM. Die meeste sinergistiese kombinasies is gevind vir die drievoudige negatiewe MDA-MB-231 borskankersellyn. Vir die SK-Br3 sellyn is die laagste KI waarde ook bereken met die kombinasie van ESE-16 en indinavir, alhoewel die KI waardes vir die ander twee GLUT inhibeerders beduidend verskil het van die vir die MDA-MB-231 sellyn.

Hierdie studie het bewys dat dit moontlik is om sinergistiese kombinasies van nuwe estroon analoë en GLUT inhibeerders te identifiseer. Die drie GLUT inhibeerders wat vir die studie gekies is, is al teen hoë dosisse in voorkliniese en kliniese studies sonder enige ernstige newe effekte getoets. Aan die ander kant inhibeer die twee estroon analoë die groei van veral borskankerselle teen nanomolaarkonsentrasies wat potensiële newe effekte beperk.

Die sinergistiese kombinasies wat dusver geïdentifiseer is dui daarop dat die drie molekulêre subtipes borskanker, soos voorgestel deur die drie borskankersellyne, beduidend verskillend reageer op die kombinasiebehandelings. Hierdie verskille word verder ondersoek in verskeie toetse wat op onder andere die manier waarop seldood veroorsaak word en die invloed van mitokondriale veranderinge fokus.