Riglyne vir outeurs

Dié vaktydskrif werk met ’n enkelblinde beoordelingsproses. Alle bydraes sal aanvanklik deur die uitvoerende redakteur of die mede-uitvoerende redakteur nagegaan word om te sien of dit geskik is vir die vaktydskrif. Artikels wat as geskik beskou word, word dan toegewys aan ’n redaksielid. Dié redigeerder stuur gewoonlik die manuskrip aan ten minste twee onafhanklike vakkundige resensente wat die wetenskaplike gehalte van die artikel bepaal. Die redakteur/uitvoerende redakteurs is verantwoordelik vir die finale besluit oor die aanvaarding, al dan nie, van artikels. As 'n artikel in Engels ingedien word, is die publikasiefooi R2,500.00. Die outeur betaal dan ook die helfte van die vertaalfooi en ons die ander helfte.

Artikels kan op die webtuiste http://www.satnt.ac.za/ ingedien word.

Gebruik van woordverwerkingsagteware

Dit is belangrik dat die lêer in die woordverwerker se oorspronklike formaat gestoor word. Die teks moet in enkelkolomformaat, 1.5 lyn-spasiëring en lettergrootte 12 wees, asook bladsy- en reëlnommers bevat. Hou die uitleg van die teks so eenvoudig moontlik. Die meeste van die formateringskodes sal verwyder word wanneer die artikel verwerk word. Moet spesifiek nié die woordverwerker se opsies om die teks te justeer of om koppeltekens tussen woorde te sit, gebruik nie. Gebruik egter vet letters, kursief, voetskrifte, boskrifte, ens.

Tabelle: Gebruik net een rooster vir elke individuele tabel as jy ’n tabelrooster gebruik en nie ’n rooster vir elke ry nie. Gebruik tabelkepe (“tabs”), in plaas van spasies, om kolomme in lyn te bring as jy nie roosters gebruik nie.

Tabelle en figure moet in die teks geplaas word op die plekke waar dit in die gepubliseerde manuskrip moet verskyn.

Let daarop dat bronlêers van figure, tabelle en teksgrafika benodig word.

Ons beveel jou sterk aan om jou woordverwerker se speltoets- en grammatikatoets-funksie te gebruik om onnodige foute te vermy.

Artikelstruktuur-onderverdeling – genommerde onderafdelings

Verdeel jou artikel in duidelik gedefinieerde en genommerde onderafdelings. Onderafdelings moet met 1.1 (dan 1.1.1, 1.1.2, ...), 1.2, ens. genommer word (die abstrak is nie by die nommering van onderafdelings ingesluit nie). Gebruik hierdie nommering vir inhoudelike kruisverwysings: moenie slegs na “die teks” verwys nie. ’n Inhoudsopgawe moet aan die begin van omvattende oorsigartikels voorsien word. Enige onderafdeling kan ’n kort opskrif kry. Elke opskrif moet op ’n eie reël verskyn. Die volgende opskrifte word gewoonlik in navorsingspublikasies gebruik.

Inleiding

Stel die doelwitte van die werk en bied ’n deeglike agtergrond. Vermy ’n gedetailleerde literatuurstudie of ’n opsomming van die resultate.

Materiaal en metodes

Enige spesie of infraspesifieke taksonomiese groep moet na verwys word aan die hand van gepaste literatuur wat gebruik word om die betrokke materiaal te identifiseer. Gee die volledige wetenskaplike naam/name van organismes of plant(e) wat gebruik is, en ook die kultivar (ktv.) of variëteit (var.) waar van toepassing. Alle groeitoestande moet behoorlik beskryf word. Genoegsame detail oor die tegnieke wat gebruik is moet voorsien word sodat dit maklik herhaal kan word.

Resultate

Die resultate moet duidelik en bondig wees. Moenie resultate in tabelle en figure dupliseer nie, tensy daar ’n spesifieke rede daarvoor is. Moenie materiaal wat toepaslik vir die bespreking is, insluit nie.

Bespreking

Dit moet die betekenis van die resultate toelig en binne die konteks van ander werk plaas. Moenie oormatig spekulatief wees of die resultate herhaal nie.

In menige geval mag dit meer toepaslik wees om die resultate- en besprekingsafdeling te kombineer. In so ’n geval kan ’n slotsom-afdeling ook toepaslik wees.

Bylae

Indien daar meer as een bylaag is, moet dit as A, B, ens. geïdentifiseer word en vergelykings in bylae moet apart genommer word: vgl. (A.1), vgl. (A.2), ens.; in ’n daaropvolgende bylaag, vgl. (B.1) ens. Dieselfde geld vir tabelle en figure: Tabel A.1; Fig. A.1, ens. Tabelle en figure se byskrifte moet duidelik wees sodat dit verstaanbaar is sonder om die teks te moet raadpleeg.

Belangrike titelbladinligting

  • Dit moet bondig en insiggewend of interessant wees. Dink of jou titel ’npotensiële leser sal oortuig om jou abstrak of manuskrip te lees. Titels word dikwels gebruik in inligtingsherwinningstelsels. Vermy afkortings en formules waar moontlik.
  • Outeursname en affiliasies. Dui asseblief elke outeur se voornaam/voorname en van aan en maak seker dat al die name korrek gespel is.
  • Voorsien die outeurs se affiliasie-adresse (waar die eintlike werk gedoen is) onder die name. Dui alle affiliasies in klein boskrifletters aan onmiddellik na ’n outeur se naam en voor die toepaslike adres.
  • Voorsien elke affiliasie se volledige posadres, die naam van die land en, waar beskikbaar, die outeur se e-posadres.
  • Betrokke outeur. Dui duidelik aan wie die korrespondensie gedurende alle publikasiefases asook ná publikasie gaan behartig. Dié verantwoordelikheid sluit die beantwoording van enige toekomstige navrae oor metodologie en materiaal in. Maak seker dat die betrokke outeur die e-posadres en kontakbesonderhede wat jy voorsien het, op datum hou.
  • Huidige/permanente adres. Indien die outeur verhuis het sedert die werk wat beskryf word in die artikel voltooi is, of op daardie stadium op besoek was, kan ’n “Huidige adres” (of “Permanente adres”) as ’n voetnota by die outeur se naam voorsien word. Die adres waar die outeur in werklikheid die werk afgehandel het, moet die hoofaffiliasieadres bly. Arabiese boskrifsyfers moet gebruik word vir hierdie voetnotas.

Abstrak

’n Bondige en feitelike abstrak moet voorsien word. Die doel van die navorsing, hoofresultate en belangrikste konklusies moet kortliks in die abstrak saamgevat word. Dit moet nie meer as 5% van die manuskrip wees nie. ’n Abstrak word dikwels apart van die artikel aangebied, dit moet dus alleen kan staan. Om hierdie rede moet verwysings vermy word. Indien verwysings noodsaaklik is, moet die outeur(s) en die jaar/jare aangehaal word. Niestandaard- of ongewone afkortings moet vermy word, maar indien noodsaaklik moet dit die eerste keer wanneer dit in die abstrak self voorkom, gedefinieer word.

Afkortings

Definieer niestandaard-afkortings in hierdie veld in ’n voetnota op die eerste blad van die artikel. Afkortings van hierdie aard wat onvermydelik is in die abstrak moet gedefinieer word wanneer dit die eerste keer genoem word, asook in die voetnota. Maak seker alle afkortings in die artikel is deurgaans konsekwent.

Erkennings

Groepeer erkennings in ’n aparte afdeling aan die einde van die artikel voor die verwysings. Moet dit dus nie as ’n voetnota vir die titel op die titelblad of enige ander plek insluit nie.

Lys individue wat jou bygestaan het gedurende jou navorsing (bv. hulp met taal, skryfwerk of proeflees van die artikel, ens.), maar wat nie voldoen aan die vier vereistes van outeurskap nie, hier.

Formatering van befondsingsbronne

Lys befondsingsbronne op hierdie standaardwyse om toegeeflikheid met die befondser se vereistes te bewerkstellig: Befondsing: Hierdie werk is ondersteun deur die Nasionale Navorsingsfonds [toelaagnommers xxxx tot yyyy]. Dit is nie nodig om gedetailleerde beskrywings oor die programme of die tipe toelae en toekennings te voorsien nie. Dien die naam in van die instelling of organisasie wat die befondsing voorsien het, indien dit van ’n algemene toelaag of ander bronne wat beskikbaar is aan die universiteit, kollege of ander navorsingsinstelling afkomstig is. Sluit asb. die volgende sin in indien geen befondsing vir die navorsing voorsien is nie: Hierdie navorsing het nie ’n spesifieke toelaag ontvang van befondsingsagentskappe in die openbare, kommersiële of niewinsgewende sektore nie.

Bydrae van elke outeur

Dui elke outeur se bydrae tot die manuskrip aan ten einde outeurskap te regverdig.

Volgens die Internasionale Komitee van Mediese Vaktydskrifredigeerders moet ’n outeur aan die volgende maatstawwe voldoen om in aanmerking te kom.

  • Wesenlike bydraes tot die totstandkoming of vormgewing van die werk; of die verkryging, ontleding, of interpretasie van data vir die werk; EN
  • Konseptualisering van die werk of kritiese hersien van die werk vir belangrike intellektuele inhoud; EN
  • Finale goedkeuring van die weergawe wat gepubliseer gaan word; EN
  • Ooreenkoms om aanspreeklik te wees vir alle aspekte van die werk om te verseker dat vrae oor die akkuraatheid en integriteit van enige gedeelte van die werk behoorlik ondersoek en opgeklaar word.

Verwysings

Aanhaling in teks

Maak asb. seker dat elke verwysing wat aangehaal word in die teks ook in die verwysingslys verskyn (en andersom). Enige verwysings wat in die abstrak aangehaal word, moet volledig verskaf word. Ongepubliseerde resultate en persoonlike gedagtewisselings word nie aanbeveel in die verwysingslys nie, maar dit mag in die teks genoem word. Indien hierdie verwysings by die verwysingslys ingesluit word, moet die vaktydskrif se standaardverwysingstyl gevolg word, en in plaas van die publikasiedatum moet daar staan: “Ongepubliseerde resultate” of “Persoonlike kommunikasie”. As ’n verwysing as “in druk” aangehaal word, impliseer dit dat dié item aanvaar is vir publikasie.

Webverwysings

Minimum: Die volledige bronadres (“URL”) asook die datum waarop daar die laaste keer toegang tot die verwysing verkry is. Enige verdere inligting, indien dit bekend is (DOI, outeursname, datums, verwysing na ’n ander bronpublikasie, ens.), moet ook aangedui word. Webverwysings kan apart gelys word (met ander woorde ná die verwysingslys) onder ’n ander opskrif, indien dit so verkies word, of dit kan by die verwysingslys ingesluit word.

Verwysingstyl

Teks: Alle aanhalings in die teks moet verwys na: 1. Een outeur: die outeur se naam (sonder voorletters tensy daar dubbelsinnigheid is) en die publikasiejaar; 2. Twee outeurs: beide outeurs se name en die publikasiejaar; 3. Drie of meer outeurs: die eerste outeur se naam gevolg deur “et al.” en die publikasiejaar. Aanhalings kan direk (of tussen hakies) wees. Groepverwysings moet eers alfabeties en dan chronologies gelys word. Voorbeelde: “soos aangetoon (Allan, 1996a, 1996b, 1999; Allan en Jones, 1995).” “Kramer et al. (2000) het onlangs aangetoon ...”

Verwysings moet eers alfabeties gerangskik word en dan verder chronologies georden word, indien nodig. Meer as een verwysing van dieselfde outeur(s) in dieselfde jaar moet geïdentifiseer word deur die letters "a", "b", "c", ens., wat ná die publikasiejaar geplaas word. Gebruik slegs die voorletters van die outeurs se voorname. Geen punt en spasie tussen die voorletters nie. Van kom eerste. 

Voorbeelde in teks:

(Reygaert 2018)
(Sadig & Smit 2018)
(Sadiq et al. 2018)

Voorbeelde:

Verwysings na vaktydskrifpublikasies (volledige vaktydskriftitel, nie afgekort nie):

Van der Geer, J., Hanraads, J.A.J., Lupton, R.A., 2000, The art of writing a scientific article. Journal of Science Communication 163, 51-59.

Verwysing na ’n boek: Strunk Jr W, White EB. 1979. The Elements of Style, derde uitg. Macmillan, New York.

Verwysing na ’n hoofstuk uit ’n geredigeerde boek: Mettam GR, Adams LB. 1999. How to prepare an electronic version of your article, in: Jones BS, Smith RZ (Uitg.). Introduction to the Electronic Age. E-Publishing Inc., New York, pp. 281–304.