Algemeen

Mandaat

Die hoofdoelstellings van die SATNT is:

  • om ons natuurwetenskappe en tegnologie-kennis uit te brei deur ʼn oop-toegang eweknie-beoordeelde wetenskap-tydskrif beskikbaar te stel waarin Suid-Afrikaanse navorsingsresultate gepubliseer kan word vir internasionale blootstelling;
  • om vir Afrikaanssprekende wetenskaplikes die geleentheid te bied om navorsingsresultate in hulle moedertaal te kan publiseer; en
  • om die Afrikaanse natuurwetenskaplike en verwante tegnologiese vaktaal te onderhou en verder uit te brei.

Geskiedenis

Op akademiese vlak het die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns van 1922 af onder redaksie van dr. D.F. Malherbe verskyn. In 1948 het die Ingenieursafdeling van die SAAWK egter besluit om die Tydskrif van die Ingenieursafdeling van die SAAWK (onder redaksie van mnr. S.A. Malan) afsonderlik te begin uitgegee. Hierdie tydskrif se mandaat word in 1949 uitgebrei waarna dit vervang word met die tydskrif Tegnikon onder redaksie van mnr. F.S. Uys. In 1961 word daar besluit om die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns in twee te verdeel, waaruit die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (onder redaksie van prof. P.J. Nienaber) en die Tydskrif vir Natuurwetenskappe (onder redaksie van dr. A. Strasheim) die lig sien. In 1982 smelt Tegnikon en die Tydskrif vir Natuurwetenskappe saam waaruit die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) gebore word – op daardie stadium nog steeds onder redaksie van dr. A. Strasheim. Na 2000 word prof J.N. Eloff aangewys as die Voorsitter van die Redaksiekomitee van die SATNT. Met nuwe ontwikkelings in die rekenaar kommunikasietegnologie word die eerste elektroniese aanlyn-uitgawe van die SATNT in 2012 gepubliseer. Tussen 2013 en 2016 neem prof. J.G. Maree oor as die Uitvoerende Redakteur, en na 2016 word prof J.N. Eloff weer aangewys die Uitvoerende Redakteur van die SATNT. Prof. Oppel B.W. Greeff neem daarna in Januarie 2021 oor as Hoofredakteur – ʼn posisie wat hy beklee het tot aan die einde van February 2023. Sedert Maart 2023 word prof. Hannes Rautenbach aangestel as die Hoofredakteur van die SATNT.

Strategie

Die Redaksie verwelkom goeie gehalte Suid-Afrikaans verwante manuskripte oor ʼn wye gebied van navorsing in die natuurwetenskappe en die tegnologie. Manuskripte sal na aanvaarding onmiddellik aanlyn as artikels verskyn, en aan die einde van elke jaar sal slegs die aanvaarde Afrikaanse manuskripte in ʼn papier-gedrukte vorm van die tydskrif gepubliseer en uitgegee word, waarna dit uitgestuur sal word na alle lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK). Navorsers word dus aangemoedig om manuskripte in Afrikaans in te dien.

Daar word egter ook die geleentheid aangebied dat manuskripte in Engels ingedien kan word, waarna dit in Afrikaans vertaal kan word. In laasgenoemde geval word ʼn publikasiefooi van R2,500.00 gehef wat vir vertalingsdienste aangewend sal word. Engelse manuskripte sal onder meer ook na internasionale keurders gestuur word vir evaluering. Die Afrikaanse publikasie, en indien daar ʼn Engelse weergawe aanlyn beskikbaar is, sal presies dieselfde verwysing onder die Afrikaanse of Engelse (South African Journal of Science and Technology) titel hê.

Dit is ook vir Afrikaanssprekende wetenskaplikes belangrik dat hulle resultate internasionaal toeganklik moet wees ter wille van die uitbouing van die wetenskap en die sitering van hulle publikasies. Die oplossing wat die SATNT met uitstekende finansiële ondersteuning van ons borge aanbied, is dus om manuskripte as gedrukte kopieë een keer per jaar in Afrikaans te publiseer. Die aanlyn-uitgawe kan dus ook, indien die manuskrip oorspronklik in Engels aangebied is, benewens die Afrikaanse vertaling die volledige manuskrip in Engels bevat.

Toegangbeleid

Die SATNT lewer onmiddellike oop-toegang tot sy inhoud. Hierdeur ondersteun die tydskrif die beginsel dat vrye toegang tot navorsing die wêreldwye uitruiling van kennis bevorder.

Akkreditering en beperking

Alle navorsingspublikasies in die SATNT kwalifiseer vir ʼn subsidie van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) aan die universiteit of navorsingsinstansie waaraan die outeurs verbonde is. Die DHOO plaas egter die beperking dat nie meer as 25% van die totale aantal publikasies binne die bestek van ʼn jaar van een enkele universiteit of navorsingsinstansie mag kom nie. Publikasies van meer as een universiteit of navorsingsinstansie word daarom onmiddellik na aanvaarding aanlyn gepubliseer, terwyl publikasies van ʼn enkele universiteit aanlyn teruggehou sal word indien daar reeds meer as 25% publikasies van daardie instansie ontvang is. Outeurs word dus aangemoedig om met kollegas by ander universiteite of navorsingsinstansies saam te werk.

Ondersteuning

Deur die uitstekende borgskappe wat ons ontvang, onder meer van die Hiemstra Trust en die Het Jan Marais Fonds word geen publikasiekoste gehef vir Afrikaanse bydraes nie, maar wel R2,500 vir bydraes in Engels. Die gepubliseerde manuskripte kan onmiddellik elders op navorsingsplatforms, soos bv. ResearchGate, geplaas word om die sigbaarheid van die manuskripte te verhoog.

Die redigeerproses is so opgestel dat manuskripte met min moeite aanlyn geplaas, geëvalueer en geredigeer kan word. Alhoewel die SATNT onder die vaandel van die SAAWK gepubliseer en gefinansier word, word die manuskripbestuur deur ‘n onafhanklike kontrakteur behartig.

Verspreiding en indeksering

Die volledige teks van elke artikel word onmiddellik en permanent na publikasie in die SATNT-argiewe van die onderstaande groot bibliografiese databasisse gestoor. Verder is alle artikels wat sedert 1982 gepubliseer is elektronies beskikbaar op die SATNT se webtuiste: www.satnt.ac.za.

DHET SA List, Thomson Reuters Web of Science Other Coverage, BIOSIS Previews, Directory of Open Access Journals (DOAJ), EBSCO Host, GALE, CENGAGE Learning, Google Scholar, ProQuest, Norwegian Register for Scientific Journals, Series and Publishers, Level 1, Portico, Medpharm Library, SA ePublications, Sabinet, South African Government Libraries.

Borge

Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK).